‘Keep Left’



Dit is Maandag. Pa se wekker het dit so aangekondig. Die wekker gaan om 05:00 af, maar Pa is al lankal op, aangetrek en besig om koffie te maak.

Die geur van die vars gemaakte koffie hang in die lug as Pa die koppie swartkoffie langs die bed neersit. Pittekoffie.  Self het ons die pitte gebrand, van groenkleur tot donkerbruin asook gemaal in die koffiemeul.

Die werklikheid begin inskop.  Dit is Maandag, nog ‘n week weg van die plaas, die rivier en alles waarvoor ek só lief is. Eenmaal ‘n Malgaskind, altyd ‘n Malgaskind.

Dit is nou aantrek-tyd, vir Ma-groet-tyd, inpak-tyd en boeke-tas vat-tyd, bestemming Swellendam koshuis.

Eers word die neefs opgetel.  Die tasse word mooi in ‘n ry gepak, agterop die bakkie. Soos skape ter slagting, volg ons die pad na die pont.  Verby ons huis en deur die Kerkgronde. 

Die Klipkerk staan afge-ets teen die krans. Dan troos ek myself die Klipkerk sal Vrydagmiddag nog daar wees, en ék kan weer die hek oop- en toemaak.

Pa drink ‘n laaste koppie koffie by Oom Moxie, die legendariese Pontman, voor ons vertrek. Pa bestuur die bakkie op teen die pont. Dit weergalm in die vroeë oggend ure soos Oom Mox die planke laat val op die pont se oprit. Die swaar planke is met die hand geplaas tussen die oprit en die grond dat die voertuie gemaklik op en af kon ry.

 Bo-op die dek van die pont, trek Pa ‘n bietjie vorentoe en kom skielik tot stilstand, daar beweeg die pont…  

Pa en broer begin met die heen en weer gestap op die pont, ritmies en ‘n tipe aanduiding dat die uur aanbreek het. 

‘n Band word oor die nek en onder deur die een skouer gevleg. Die ketting word behendig om die pont se kabel gegooi en dan is dit vastrap en begin stap. Hul bly eintlik net op een plek staan, maar met elke tree trap hul die pont in die teenoorgestelde rigting. 

Ons kinders is nie vandag lus om te help nie, dit is Maandag, ons sal weer Vrydag help.

Die pad is stowwerig in die somer. Winteraande vol modder.  Dan ry pa maar ‘n bietjie stadiger, die bakkie mag dalk gly en die pad verlaat. 

Ons ry by Jan Dunn se plaas verby, dit is maar verlate.  As kind wonder jy waar is die mense dan nou. 

Paardekloof se mense het nog nie skoolgaande kinders nie. 

Die pad gaan deur die Bulhek by Oom Frikkie. Die gronddam is gevaarlik naby aan die pad. In die winter, met die dik mis, kan mens maklik in die dam beland. Die Chevrolet, later jare ‘n International Bakkie,  ry rustig deur die plaas Swartklip. Hul bakkie staan voor die huis, gereed vir nog ‘n skaap of twee wat ter slagting geneem moet word. 

Die pad gaan al hoe vinnig verby, verby die Fourie’s, oor Sandkraal en dan skielik is Buffeljagsrivier se liggies daar.
By Kekkel en Kraai draai Pa die Bakkie regs met die pad, deur die perske bome. Winter-maande staan hul soos spoke in die maanlig. Somer-maande kan jy nie anders as om die groot geel perskes te bewonder nie. 

By die treinspoor is Pa besonders versigtig. Skielik is ons by die “BP garage”. Almal ken vandag die beroemde motorhawe van Buffeljagsrivier. 

Ek troos myself dat Vrydag sal ons miskien daar roomys koop, dalk ‘n suiglekker of twee.


Met die Langeberge aan die regterkant is die N2 teerpad tussen Buffeljags- en Swellendam gou vergete en het ons afgedraai na Swellendam. By die Drosdy staan groot lukwart bome wat ons sal besoek in die vrugte seisoen. 

Pa kyk met die verby ry op die NG Kerk se horlosie. Die tyd is net so voor 7. Verby Tomlinson ry ons die hoofstraat af. Ek hoor Pa sê, vir homself, “Ek moet onthou om pos te kry”. 

By Slakkie se “garage” draai Pa die bakkie regs en as ons by “keep left” kom, gaan ons “left”. Dan is die geboue daar, eers die hoërskool en dan die slagpale-koshuis.

Met ‘n swaar gemoed en verlangende hart na Ma, aan die oewer van die rivier, stap ons die paadjie op.  

Maandae, week na week, kwartaal na kwartaal, jaar na jaar.

Deur Connie Dunn